![]() |
|
'Backpacking' in die SederbergDonderdag 11 Maart het ‘n groep opgewonde Gr. 7’s van
Laerskool Koo, hul ouers en onderwysers, vertrek na die Sederberge. Na net meer
as drie uur se ry was ons in die berge by die Algeria kampterrein, een van die
gewildste plekke in die Sederberge. Die bosboustasie en kampterrein lê aan die
bopunt van ‘n lieflike vallei, aan die oewer van die Rondegatrivier waar almal
toe ook die middag gaan swem het. Die volgende oggend het ons
almal, gewapen met ons rugsakke, die Sneeuberg staproete aangepak. Die eerste
ent van Eikeboom tot by die Sneeuberghuis (net ‘n kliphuisie sonder beddens) is
nie te moeilik nie en het so drie ure geduur. Die rotsformasies is buitengewoon
mooi. By die Sneeuberghut het ons ons swaar rugsakke gelos na ‘n middagete en
toe die tog aangepak na die Maltese kruis. Sommige brawes onder ons wou
Sneeuberg uitstap, maar toe Sneeuberg (2027m en twee maal hoër as Tafelberg)
voor ons pryk, het hulle darem vinnig daarteen besluit. Die aand was nou die ideale
geleentheid om ‘n lekker praatjie met die Gr. 7’s te hê oor die opdraandes wat
hulle nog in die lewe gaan ondervind en dat mens net moet vasbyt en deurdruk. Dag twee het ons een van die
mooiste roetes in die Sederberge gestap. Die roete deur die pragtige Duiwelsgat
sal mens nie maklik vergeet nie en is nie baie moeilik nie. Die aand het ons by die Sanddrif
kampterrein oornag (skaduryke kampplek, 20 staanplekke met krag). Ons het die
aand ‘n baie interessante lesing by die sterrewag daar in die berge bygewoon.
Die volgende oggend sou ons die Wolfberg skeure aanpak, maar almal was maar
redelik lyfseer en het ons toe die 35 minute stap na Maalgat aangepak, ‘n reuse
swemgat in die rivier. Groepsdruk het meegebring dat mense met selfs
hoogtevrees van die 11 meter hoë kranse en hoër afgespring het in die diep
swemgat. Daarna het ons ‘n heerlike “brunch” geniet en het almal die terugtog
huis toe aangepak.
|
![]() Have your say montagumail@compuservices.co.za Back to Contents Page |